Markus 14:22-31

Markus 14:22-31 DB

Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.” Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe. Jesus het verder gepraat: “Julle almal gaan die rug vir My draai asof julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word en dan na Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie en sê toe ernstig: “Al hardloop almal weg en maak asof hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Wel, dan het Ek nuus vir jou,” kom dit van Jesus. “Vandag, om meer presies te wees, vannag voor dit tyd word vir die haan om die tweede maal te kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy nog nooit iets met My te doen gehad het nie.” Hardkoppig het Petrus aangehou: “Ek sal dit nooit ooit doen nie. Al maak hulle my dood, ek sal dit nie doen nie.” Die ander het almal ook so gesê.