Die groot fees van die Jode, die paasfees, en nog ’n ander fees, naamlik die fees van die ongesuurde brood, was om die draai. Dit was nog maar twee dae voor die feestelikhede met mening sou begin. Die godsdienstige leiers van die Jode in Jerusalem het aan allerhande agterbakse planne gedink om Jesus te vang en te laat doodmaak. “Ons kan dit nie doen terwyl die mense feesvier nie, want dan het ons ’n opstand onder die mense,” het hulle geredeneer. In daardie stadium was Jesus nog in Betanië. Hy het by Simon, wat melaats was, gaan eet. ’n Vrou kom toe die eetkamer in. By haar het sy ’n potjie baie duur parfuum gehad wat van nardus gemaak was. Sy het die potjie oopgemaak en alles op Jesus uitgegooi, veral op sy hare. Van die ander mense aan tafel was baie omgekrap. Hulle het eers so onderlangs gemompel en toe vir die vrou gesê: “Hou op, hoekom mors jy die parfuum so? Ons kon dit maklik gaan verkoop en amper ’n jaar se salaris daarvoor gekry het. Dink net hoeveel arm mense kon ons met daardie geld gehelp het.” Hulle het sommer lelik met haar geraas. Jesus sien toe wat aangaan. “Los haar! Waarom kraak julle haar so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Dit is so ’n mooi gebaar. Onthou een ding: julle kan later die arm mense help, want daar sal altyd van hulle wees. Julle sal meer as genoeg kans kry om dit te doen. Maar Ek gaan nie altyd so by julle wees nie. Sy het hierdie parfuum oor My uitgegooi terwyl sy nog kon. Hierdie liggaam van My gaan binnekort in ’n graf lê. Sy het egter die parfuum betyds oor My uitgegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Sowaar, waar mense in die toekoms oor My gaan praat, gaan hulle oor haar ook praat. Dit maak nie saak waar dit is nie, maar hulle sal haar onthou.” Omtrent in daardie tyd het Judas, een van die twaalf getroue volgelinge van Jesus, besluit om teen Hom te draai. Hy is na die Joodse godsdienstige leiers toe om te hoor of hy hulle kon help om Jesus te vang. Die godsdienstige leiers was natuurlik baie bly om dit te hoor. Hulle het vir hom ’n hele klomp geld beloof as hy hulle sou help. Judas het sy kans mooi afgewag om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood wat Israel in Egipte moes eet, is die lam vir die paasfees ook geslag. Juis toe vra Jesus se volgelinge Hom: “Waar moet ons vir ons die paasete gaan regmaak?” Jesus stuur toe twee van sy volgelinge: “Gaan Jerusalem toe. Daar sal julle ’n man kry wat ’n emmer water dra. Loop agter hom aan tot hy by ’n huis ingaan. Sê dan vir die man aan wie die huis behoort: ‘Jesus, wat die mense so van God vertel, vra waar die kamer is waar Hy en sy volgelinge die paasete kan eet.’ Hy sal julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van die huis vat. Alles sal klaar regstaan. Daar moet julle die kos vir die ete begin voorberei.” Die twee volgelinge is toe daar weg en in Jerusalem het hulle alles net so gekry soos Jesus gesê het. Hulle het toe die kos vir die paasfees begin regmaak. Teen die aand se kant het Jesus met sy ander volgelinge ook daar aangekom. Aan tafel sê Jesus toe vir hulle: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê. Een van julle wat nou hier saam met ons sit en eet, gaan My in die rug steek.” Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?” “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”
Lees Markus 14
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 14:1-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's