Terwyl Jesus-hulle so uit die tempelterrein stap, sê een van sy volgelinge vir Hom: “Here, kyk hierdie massiewe rotsblokke waarmee die tempel gebou is. Is die gebou nie pragtig nie?” “Sien julle al hierdie groot geboue?” vra Jesus. “Hulle sal tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie een klip op ’n ander een gelos word nie.” ’n Rukkie later gaan Jesus teen die hang van die Olyfberg sit. Van daar af kon ’n mens die tempel mooi sien. Omdat daar nie ander mense by hulle was nie, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom toe: “Vertel ons asseblief meer. Wanneer gaan al hierdie vreeslike dinge gebeur? Op watter manier gaan ons gewaarsku word dat die verwoesting gaan begin? Is daar tekens wat ons kan dophou?” “Julle moet versigtig wees,” sê Jesus. “Daar sal baie mense kom wat julle op ’n dwaalspoor sal wil sit en baie sal sowaar agter hulle aanloop. Hulle sal kom en sê dat hulle die redder is en my Naam daarvoor gebruik. Moenie skrik as julle hoor dat mense begin oorlog maak nie. Dit is dinge wat moet gebeur, maar dit beteken nog nie dat die einde hier is nie. Nasies sal met mekaar baklei oor wie die sterkste is en die een heerser sal die ander een probeer onderkry. Kos gaan ook met tye baie skaars word en op ander plekke sal daar aardbewings wees. Dit sal die eerste tekens wees dat die einde aan die kom is, net soos die pyne wat ’n swanger vrou kry die teken is dat die kind op pad is. “Kyk ook wat alles met julle gaan gebeur. Mense sal julle voor die hof sleep en julle voor almal verneder en slaan. Omdat julle my volgelinge is, sal julle voor die leiers van die wêreld aangekla word, maar dit sal julle die kans gee om vir hulle van My te vertel. Voordat die einde kom, moet die goeie nuus eers aan al die nasies vertel word. En as hulle julle in die tronk stop of voor die hof sleep, moenie bekommerd wees oor wat julle gaan sê nie. “Die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik help om die regte dinge te sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Heilige Gees. “Dit sal so sleg gaan dat ’n broer niks daarvan sal dink om sy eie broer te verraai sodat hy doodgemaak kan word nie. Pa’s sal dit ook aan hulle kinders doen. Kinders sal ook nie meer na hulle ouers wil luister nie. Hulle sal teen hulle ouers draai en nie omgee om hulle te laat doodmaak nie. Mense sal niks meer met julle te doen wil hê nie omdat julle aan My behoort. Hulle sal julle sleg behandel waar hulle kan. Maar as iemand nie aan die druk toegee nie, maar aan my kant bly staan tot die bitter einde toe, sal God hom in sy nuwe wêreld verwelkom.
Lees Markus 13
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 13:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's