Jesus-hulle was op pad Jerusalem toe. Jesus het voor geloop terwyl sy volgelinge agternagekom het. Sy getrouste volgelinge was omgekrap en ontsteld terwyl ander bang begin voel het. Weer ’n keer vat Hy sy getrouste volgelinge eenkant toe en vertel vir hulle mooi wat met Hom gaan gebeur. “Ons is op pad Jerusalem toe,” sê Jesus. “Daar sal Ek, die Seun van die mens, op ’n verraderlike manier in die kloue van die leiers van die Jode en die Joodse geleerdes val. Hulle sal besluit dat Ek uit die weg geruim moet word. Hulle sal My dood wil sien en daarom sal hulle My aan die Romeine oorgee. Hulle sal My sonder genade behandel - hulle sal op My spoeg, met My spot, My met swepe slaan en uiteindelik doodmaak. Maar drie dae later sal Ek uit die dood lewendig word.”
Sebedeus se twee seuns, Jakobus en Johannes, kom vra Hom toe: “Meneer, ons wil U asseblief ’n groot guns vra.”
“Vra maar, laat Ek hoor,” sê Jesus.
“As U eendag groot en belangrik as heerser op u troon sit, kan ons asseblief aan weerskante van U sit?” vra hulle vir Jesus.
“Julle weet nie wat julle vra nie,” kom Jesus se antwoord. “Die pad wat vir My voorlê, is bitter swaar. Dit is soos ’n beker vol smart en seerkry wat Ek moet drink. Ek dink nie julle sal dit saam met My kan drink nie. Soos iemand wat in water gedoop word, moet Ek in lyding gedoop word. Sal julle dit kan uithou? Ek glo nie.”
“Ons sien daarvoor kans,” antwoord hulle vinnig.
“Dit is wel so dat julle ook die beker van smart soos Ek sal drink en soos Ek in lyding gedoop sal word,” antwoord Jesus hulle. “Maar Ek kan julle nie beloof dat julle aan weerskante van My sal kan sit nie. Dit is nie vir My om te besluit nie. God maak daardie plekke reg en Hy sal besluit wie sit waar.”
Toe die res van die twaalf dit hoor, was hulle sommer die duiwel in vir Jakobus en Johannes. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet mos hoe dit byvoorbeeld onder die Romeine gaan. Hulle het leiers wat vir die mense sê wat moet gebeur en wat nie. Belangrike amptenare sit in die hoë poste en regeer die gewone mense van daar af.
“Onder julle as Christene mag dit egter nie gebeur nie. As iemand onder julle belangrik wil wees, moet hy die onbelangrikste posisie onder julle inneem. Hy moet bereid wees om alles te doen wat die ander van hom vra en moet die hele tyd reg wees om die ander te dien, of dit hom nou pas of nie.
“Selfs Ek, die Seun van die mens, het nie gekom sodat almal My moet bedien nie. Ek het gekom om ander te dien. Daarom het Ek my lewe gegee sodat baie mense daardeur weer God se eiendom kan word.”
Hulle kom toe by Jerigo aan. Jesus, sy getrouste volgelinge en ’n groot klomp ander mense was net op pad uit die dorp uit toe hulle by ’n blinde man verbyloop wat daar langs die pad gesit en bedel het. Dit was Bartimeus, die seun van Timeus. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is wat daar verbyloop, begin hy hard skree: “Jesus, Seun van Dawid, het U nie asseblief ’n bietjie jammerte vir my oor nie?”
Baie mense het kwaai vir hom gesê om stil te bly. Maar hy het hom nie laat afsit nie en het harder geskree: “Seun van Dawid, sien my asseblief tog raak en kry my ook jammer.”
Jesus gaan staan toe stil en vra: “Gaan roep daardie man, asseblief.”
Hulle roep toe die blinde man en sê: “Dit is jou gelukkige dag. Kom, Jesus roep jou.” Die man gooi sy baadjie eenkant toe, spring op en kom na Jesus toe.
“Wat wil jy hê moet Ek doen?” vra Jesus hom.
“Ek wil asseblief graag sien, Meneer,” kom die antwoord.
“Jy kan maar gaan,” sê Jesus vir hom. “Omdat jy op My vertrou het, is jy nou gesond.” Die man kon dadelik sien en hy het daar en dan vir Jesus begin volg.