Matteus 18:21-35

Matteus 18:21-35 DB

Petrus vra toe vir Jesus: “Here, sê my, hoeveel keer moet ek iemand vergewe wat verkeerd teenoor my opgetree het? Tot sewe maal?” “Nee, nie net sewe keer nie,” het Jesus geantwoord. “Sewentig maal sewe keer. Moenie tel hoeveel keer jy ander mense vergewe nie. Vergifnis hou net aan en aan.” Toe vertel Jesus vir hulle ’n verhaal om te verduidelik wat Hy bedoel: “In God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n koning wat op ’n dag besluit het om sy boeke na te gaan en te kyk wie van sy onderdane hom geld skuld. Toe hy begin sommetjies maak, kom hy agter dat een van sy amptenare hom twintig miljoen rand skuld. Hy was baie geskok hieroor en het die man dadelik ontbied. Toe die man opdaag, het hy vir die koning gesê dat hy bankrot is. Hy kon nie sy skuld betaal nie. Die koning was woedend daaroor. ‘Verkoop hom en sy vrou en kinders daar op die mark as slawe. Verkoop ook al hulle besittings. So kry ek darem ’n paar rand terug.’ “Die vreesbevange amptenaar het toe op sy knieë voor die koning neergeval en om genade begin smeek. ‘Gee my asseblief nog ’n laaste kans. Ek sal alles terugbetaal wat ek aan u skuld.’ “Die koning se hart het sag geword toe hy die amptenaar so sien smeek. Toe besluit hy daar en dan om al sy skuld af te skryf. “Toe die amptenaar by die paleis uitstap, loop hy ’n ander amptenaar raak wat hom 9 000 rand skuld. Hy gryp hom toe aan die keel en sê: ‘Betaal nou dadelik wat jy my skuld!’ “Die man het op sy knieë neergeval en gepleit: ‘Gee my asseblief nog ’n laaste kans. Ek sal binnekort die geld terugbetaal wat ek jou skuld.’ “Die amptenaar was egter nie daarvoor te vinde nie. Hy het die man daar en dan in die tronk laat gooi. “Ander amptenare het gesien wat gebeur en was baie ontsteld daaroor. Hulle het toe vir die koning daarvan gaan vertel. “Die koning het die amptenaar toe dadelik ontbied en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Ek het so pas jou skuld van twintig miljoen rand afgeskryf omdat jy my om genade gesmeek het. Moes dit jou nie beweeg het om dieselfde vir daardie ander amptenaar te doen toe hy op sy knieë voor jou kom staan het nie?’ Die koning was so kwaad dat hy die amptenaar daar en dan tronk toe gestuur het waar hy gemartel is. “My Vader in die hemel sal net soos hierdie koning met julle maak as julle weier om mekaar van harte te vergewe.”

Video vir Matteus 18:21-35