Matteus 16:13-28

Matteus 16:13-28 DB

Toe Jesus op ’n dag naby die stad Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê U is Johannes die Doper wat weer lewendig geword het. Ander sê weer Elia. Nog ander sê U is Jeremia of een van die profete.” Jesus vra hulle toe trompop: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?” Simon Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.” Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak. “Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is. Jy is Petrus, die rots. Op hierdie rots sal Ek my kerk bou. Hierdie belydenis is so groot dat selfs nie eens die grootste magte van die hel sterk genoeg is om dit stil te maak nie. “Ek gaan ook vir jou die sleutels van God se nuwe wêreld gee. Jy kan nou die pad daarheen vir ander mense oopsluit en toesluit. Jy moet in my Naam vir mense sê hoe om daar te kom. Op hierdie manier sluit jy dan die deur na God se koninkryk vir hulle oop. Wanneer hulle nie na jou wil luister nie, moet jy vir hulle sê dat God se oordeel op hulle rus. So sluit jy dan die deur soontoe vir hulle toe.” Nadat Jesus al hierdie dinge vir die dissipels gesê het, het Hy hulle verbied om vir ander mense te sê dat Hy die Messias, God se Gestuurde, is. Jesus het van toe af begin om vir sy dissipels te verduidelik waarom Hy regtig Jerusalem toe moes gaan. Hy het gesê dat Hy in die hande sou val van al die godsdienstige leiers en skrifkenners van die volk en dat hulle Hom baie sou laat ly. Uiteindelik sou Hy doodgemaak word. Op die derde dag sou God Hom egter weer lewendig maak. Petrus was baie geskok oor hierdie woorde. Hy het Jesus eenkant toe geneem en gesê: “Nooit aste nimmer nie! God sal mos nie toelaat dat so iets met U gebeur nie.” Jesus het egter vir Petrus waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Gee pad van my af, Satan! Dit is Satan self wat nou deur jou praat. Daarom probeer jy God se plan dwarsboom. Jy is nie aan sy kant nie, maar aan die kant van die mense.” Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jou eers die volgende vraag af: Wat help dit as jy die hele wêreld aan jou voete het, maar jy kry nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg? “Ek wil julle ook waarsku: Ek, die Seun van die mens, sal binnekort met my engele terugkeer na die wêreld toe. Al die Goddelike heerlikheid van my Vader sal My op daardie dag omring. Dan gaan Ek elke mens se beloning vir hom uitdeel. Ek gaan kyk hoe almal geleef het en vir elkeen gee wat hy verdien. “Ek het egter goeie nuus vir julle: party van julle wat nou na My luister, sal beslis nie doodgaan voordat julle met julle eie oë gesien het hoe Ek op die toneel verskyn nie. Julle sal sien hoe God se nuwe wêreld aanbreek.”

Video vir Matteus 16:13-28

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 16:13-28