Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.” “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer. Jesus sê toe: “Bring dit hier.” Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was. Na die ete het Jesus vir sy dissipels gesê om solank in die skuit te klim en na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Hy het die skare ook na hulle huise toe teruggestuur. Toe almal weg is, het Jesus alleen teen die berg opgeklim om te gaan bid. Daar het Hy tot laat in die nag gebly. Intussen was die dissipels reeds ver uit op die see toe daar ’n storm opsteek. Groot golwe en ’n sterk wind van voor het dit vir hulle baie moeilik gemaak om te roei. Kort voor dagbreek die volgende môre het Jesus besluit om na sy dissipels toe te gaan. Hy het sommer op die water na hulle toe gestap. Toe die dissipels Hom sien, het hulle hulle morsdood geskrik. “’n Spook, ’n spook!” het hulle benoud uitgeroep. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel: “Bedaar. Dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Petrus roep toe: “Here, as dit regtig U is, sê dan vir my om op die water na U toe te stap.” “Waarvoor wag jy? Kom!” het Jesus geantwoord. Petrus het dadelik uitgeklim en op die water na Hom toe begin stap. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het sy moed hom begeef. Hy het begin sink. Hy roep toe benoud: “Here, red my!” Jesus het sy hand vinnig uitgesteek en hom uit die water opgetrek. “Hoekom is jou geloof so klein? Hoekom hou jy nie aan glo nie?” het Hy verwytend vir Petrus gevra. Hulle het daarna in die skuit geklim en die wind het skielik bedaar. Die dissipels wat in die boot was, het in eerbied voor Jesus neergeval. Hulle het Hom aanbid en gesê: “U is regtig die Seun van God!” Daarna het hulle na die landstreek van Gennesaret oorgevaar. Daar aangekom, het die inwoners Jesus herken. Hulle het haastig vir almal in die omgewing laat weet, sodat die siekes na Hom toe begin stroom het. So baie mense het later opgedaag dat hulle Hom gevra het of hulle net maar aan sy klere se soom kon raak. Hy het ja gesê. Almal wat aan sy soom geraak het, het gesond geword.
Lees Matteus 14
Deel
Vergelyk alle weergawes: Matteus 14:13-36
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's