Lukas 22:7-65

Lukas 22:7-65 DB

Die eerste dag van die paasfees waarop die paaslammetjies geslag moes word, het toe aangebreek. Jesus het vir Petrus en Johannes geroep en gesê: “Gaan kry asseblief vir ons die paasmaaltyd gereed. Ons moet dit saam vier.” “Waar moet ons dan die paasmaaltyd gaan voorberei?” vra hulle toe vir Hom. “Nie een van ons het dan ’n blyplek hier in Jerusalem nie.” “Gaan gou in Jerusalem in,” sê Jesus vir hulle. “Wees op die uitkyk vir ’n man wat ’n emmer water dra. Stap saam met hom na sy huis toe en sê vir hom: ‘Ons Meester vra: Waar is die kamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd moet kom eet?’ “Dan sal daardie man julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van sy huis toe vat waar alles klaar regstaan vir die paasmaaltyd.” Petrus en Johannes is toe daar weg en het alles net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het toe gou-gou aan die werk gespring en die paasmaaltyd voorberei. Teen sononder het die paasmaaltyd begin. Jesus en al twaalf apostels was daar. Hy sê toe vir hulle: “Ai, as julle net weet hoe Ek uitgesien het na hierdie paasmaaltyd saam met julle. Dis my laaste ete saam met julle voordat my swaarkry en lyding begin. Ja, Ek sal vir seker nie weer so feesvier voordat God se nuwe wêreld in al sy glorie hier is nie.” Toe vat Jesus die beker met die wyn. Nadat Hy vir God daarvoor dankie gesê het, sê Hy: “Neem die wyn en deel dit onder julle almal uit. Weet julle, Ek sal eers weer so saam met julle wyn drink wanneer ons daardie nuwe hemelse wyn aan my Vader se tafel drink.” Toe vat Jesus die brood, sê vir God daarvoor dankie, breek dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet,” sê Hy. “Dit is my liggaam. Dink elke keer aan My as julle saam hierdie brood breek en eet. Onthou dan dat Ek my lewe vir julle opgeoffer het.” Toe almal klaar geëet het, vat Jesus weer die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die teken en die bewys dat God ’n splinternuwe ooreenkoms met julle maak. My bloed wat binnekort gaan vloei, sal al julle sondes wegwas. Dit sal maak dat julle in ’n nuwe verhouding met God staan. “Maar Ek het ook slegte nuus. Een van julle wat hier saam met My aan die tafel sit, gaan My nog in die rug steek. God het besluit dat Ek, die Seun van die mens, moet kom ly. Maar daar wag groot probleme op dié een wat gaan maak dat Ek in die hande van my vyande beland.” Die dissipels was baie geskok daaroor. Hulle het onderlangs vir mekaar gevra: “Wie van ons sal so ’n verskriklike ding aanvang?” Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die dissipels aan die stry geraak oor wie van hulle die belangrikste is. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie soos baie mense in magsposisies maak nie. Hulle hou daarvan om oor ander baas te speel. Hulle wil gedurig met groot respek behandel word omdat hulle so belangrik is. Maar julle moenie soos hulle wees nie. As julle regtig belangrik wil wees, moet julle die minste wees. Dié van julle wat die meeste respek verdien, moet van nou af die heel geringste wees. Behandel ander mense met groot respek, maak nie saak wie hulle is nie. Elkeen van julle wat ’n baie belangrike posisie wil beklee, moet nou dadelik julle moue oprol en begin om ander gelowiges te dien. “Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan. “Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan. Daarom het Ek ’n wonderlike geskenk vir julle. Ek gaan vir julle elkeen ’n spesiale plek gee daar in die splinternuwe wêreld wat God aan my sorg toevertrou het. Daar sal ons almal saam feesvier. Julle sal die eregaste aan my tafel wees en saam met My eet en drink. Ja, julle sal selfs saam met My oor Israel se finale lot besluit.” Jesus draai toe na Simon Petrus toe: “Simon! My liewe Simon, as jy net weet hoe hard die duiwel probeer om julle uit my hand uit te ruk. Maar moenie bekommerd wees nie: Ek het spesifiek vir jou gebid! Ek het God gevra om te sorg dat jy nooit sal ophou glo nie. Nou is jou geloof maar swak, maar een van die dae sal dit anders wees. Glo My! Wanneer daardie dag aanbreek, moet jy asseblief omsien na al die ander gelowiges. Bemoedig hulle dan en sorg dat hulle geloof ook sterk is.” Petrus antwoord toe vinnig: “Here, U moet U nie bekommer nie. My geloof is glad nie so klein nie. Ek sal deur dik en dun by U staan, ook al moet U tronk toe gaan of doodgemaak word.” Toe antwoord Jesus hom: “Petrus, moenie so selfversekerd wees nie. Ek sê vir jou, vannag nog sal jy jou rug vir My draai. Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Daarna draai Jesus na die ander dissipels toe en sê vir hulle: “Onthou julle hoe Ek julle ’n ruk gelede uitgestuur het om vir die mense te gaan sê God se nuwe wêreld is hier? Wel, Ek het toe vir julle gesê om nie ’n beursie vol geld of ekstra klere saam te vat nie. Sê My, het julle toe iets kortgekom? Het julle een aand honger gaan slaap?” “Nee!” het hulle soos een man geantwoord. “Maar kyk, vannag is alles anders! Nou moet julle al julle geld bymekaarmaak. Pak julle klere in. En as julle nie ’n wapen het nie, sorg dat julle een in die hande kry. Julle ken mos daardie woorde in die Bybel: ‘Hy is soos ’n misdadiger behandel’? Wel, Ek gaan dit nou waar laat word. Die tyd is nou hier!” Toe sê die dissipels vir Jesus: “Ons sal doen wat U sê. Ons het darem twee swaarde hier tussen ons as dinge regtig handuit ruk.” “Dis meer as genoeg,” het Jesus geantwoord. Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en oudergewoonte weer na die Olyfberg toe gestap. So ook sy dissipels. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.” Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.” Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan en teruggestap na sy dissipels toe. Hulle almal was vas aan die slaap. ’n Paar van hulle het ’n rukkie vantevore met trane in die oë aan die slaap geraak toe hulle sien hoe swaar Jesus kry. Hy sê toe vir hulle: “Word wakker! Dis nie nou die tyd om te lê en slaap nie. Julle moet nou bid dat julle nie voor die sonde swig nie.” Jesus se woorde was skaars koud of Judas, een van sy twaalf apostels, daag daar op met ’n groot skare mense kort op sy hakke. Hy stap toe tot by Jesus en soen Hom daar voor almal. “Judas, is dit hoe jy nou die Seun van die mens uitverkoop? Verraai jy My met ’n soen, wat eintlik veronderstel is om te wys hoe lief jy My het?” het Jesus hom gevra. Die ander dissipels was baie geskok toe hulle agterkom dat Judas sy verraaier is. “Here, sê net, dan baklei ons! Ons sal U beskerm,” sê hulle vir Jesus. Voordat Hy kon antwoord, pluk een van die dissipels skielik ’n swaard uit en kap daarmee die regteroor van een van die hoëpriester se werkers af. “Stop! Hou dadelik op!” het Jesus gou vir hom gesê. Toe raak Hy die werker se oor aan. Dit was dadelik gesond. Daarna draai Jesus na al die belangrike godsdienstige leiers en die soldate toe wat opgedaag het om Hom te kom vang: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Is Ek dalk ’n gevaarlike skelm dat julle met al hierdie wapens op My toesak? Dagin en daguit het Ek daar in die tempel vir julle gepreek. Hoekom het julle My nie toe gevang nie? Hoekom moet julle hier in die middel van die nag op My afkom asof Ek ’n misdadiger is? Maar, nou ja, dis mos die oomblik waarvoor julle al so lank gewag het. Nou is dit regtig ’n baie donker uur.” Die mense het Jesus gevange geneem. Van daar af is hulle met Hom reguit na die hoëpriester se huis toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy het gesien dat ’n klompie mense ’n vuur daar in die agterplaas gemaak het om hulle warm te hou. Hy het toe tussen hulle gaan sit. Een van die vroue wat in die hoëpriester se kombuis werk, het hom dadelik herken. Sy sê vir die ander: “Ek het daardie man al saam met Jesus van Nasaret gesien. Hy is een van sy vriende.” Maar Petrus het dit dadelik ontken en gesê: “Vroumens, jy maak ’n groot fout! Ek en daardie man is glad nie vriende nie.” ’n Rukkie later het iemand anders ook vir Petrus herken en vir hom gesê: “Maar jy is dan een van die volgelinge van daardie Jesus!” “Kyk, jy’s heeltemal laf!” het Petrus vinnig gereageer. ’n Uur of wat later het nog iemand vir die ander mense gesê: “Sowaar, daardie man is ook ’n volgeling van daardie man van Nasaret. Luister net na sy aksent. Hulle klomp daar in Galilea sê mos sekere woorde anders as ons hier in Judea.” “Hoor hier, ek was nog nooit eens naby Hom nie,” het Petrus geantwoord. Terwyl hy nog praat, het ’n haan iewers in die vroeë oggendure gekraai. Jesus het geweet dat Petrus so ’n entjie van Hom af tussen die mense staan. Die Here draai toe om en kyk hom stip in die oë. Toe tref die Here se woorde van vroeër die aand vir Petrus soos ’n voorhamer: “Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Petrus het toe in die donker ingehardloop en bitterlik gehuil. Intussen het die spul wat vir Jesus gevang het met Hom gespot en Hom rondgestamp. Hulle het Hom geslaan en gesê: “Toe, sê vir ons wat is die man se naam wat jou slaan. Jy is mos so ’n groot profeet!” Hulle het Jesus ook beledig en allerhande godslasterlike dinge teenoor Hom kwytgeraak.