Johannes 9:1-12

Johannes 9:1-12 DB

In die verbygaan sien Jesus ’n man wat blind gebore is. “Wie se skuld is dit dat hierdie man blind gebore is?” vra sy dissipels Hom. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?” “Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen. Ons almal moet saamwerk om te wys wat God vir mense kan doen terwyl ons nog kan. Daarvoor het Hy My mos gestuur. Daar gaan ’n stadium kom wanneer ons dit nie meer sal kan doen nie. Terwyl Ek hier by julle is, kan Ek vir die mense wys wat God regtig wil hê en wat nie.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Hy meng ’n bietjie spoeg en grond. Hierdie modderigheid smeer Hy toe op die blinde se oë en sê: “Toe, jy kan maar loop. Gaan was jou in die bad by die Siloamfontein.” (“Siloam” beteken: hy wat gestuur is.) Die blinde het dit gedoen. Na ’n rukkie kom hy weer daar aan, maar hierdie keer kon hy alles sien! Baie mense het hom geken, want hy het dikwels daar gesit en bedel. Hierdie mense, asook die mense wat naby hom gebly het, kon hulle oë nie glo toe hulle hom sien nie. “Is dit nie sowaar dieselfde man wat altyd hier gesit en bedel het nie?” “Ja, sowaar,” het party gesê. Ander was minder geesdriftig: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” “Kan julle nie sien nie, dit ís ek!” roep die man uit. “Maar hoe het dit gebeur dat jy nou kan sien?” vra hulle hom. Die man vertel hulle toe alles: hoe Jesus modder gemaak en dit op sy oë gesmeer het; hoe Jesus hom na die Siloambad toe gestuur het om te was, en nou kan hy sien! Die mense vra toe opgewonde: “Waar’s daardie man? Ons wil hom sien.” “Ek weet ongelukkig nie,” was sy antwoord.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid