Johannes 4:27-38

Johannes 4:27-38 DB

Net toe kom sy dissipels daar aan. Hulle was nogal verbaas toe hulle Jesus met die vrou sien gesels, maar het nie ’n woord gesê nie. Nie een het eens vir haar gevra: “Wat soek jy?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou is toe terug dorp toe, sonder haar waterkruik. “Kom gou!” het sy die mense geroep. “Ek het ’n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het. Kom kyk, is Hy nie dalk die Christus nie?” Die mense het nie op hulle laat wag nie, maar is inderhaas uit die dorp uit na Hom toe. By die put het die dissipels intussen vir Hom gesê: “Rabbi, U moet iets eet.” Sy antwoord was: “Ek het my eie kos waarvan julle nie eens weet nie.” Die dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk intussen vir Hom iets gebring om te eet?” Jesus help hulle toe reg: “Weet julle wat is vir My soos kos? Dít: om presies te doen wat God wat My gestuur het, wil hê Ek moet doen. Alles wat Hy wil hê Ek moet doen, wil Ek klaarmaak. Wanneer Ek dit doen, voel Ek ‘versadig’, net soos iemand wat lekker geëet het. “Julle sê mos partykeer: ‘Oor vier maande kan ons begin oes.’ Ek het vir julle nuus. Maak julle geestelike oë oop en kyk om julle. Kyk mooi na die ‘lande’. ‘Oestyd’ is hier. Kyk net hoe ryp staan die ‘oes’. Die oes word nou reeds volstoom ingesamel. Mense wat ‘oes’, kry al hulle ‘lone’. Dit gaan natuurlik nie om ’n gewone oes nie, maar om die ‘oes van mense’. Omdat hulle deel van die ‘oes’ is, sal hulle vir altyd saam met God leef. Julle ken mos die gesegde: ‘Die een saai en die ander een maai.’ Dit is ook hier waar. Julle weet wat julle in die wêreld vir My moet doen: julle moet gaan om hierdie ‘oes’ in te samel, al het julle nie self daaraan gewerk nie. Ander mense het hard daaraan gewerk. Julle moet egter die goeie resultate van wat hulle gedoen het, gaan insamel.”