Johannes 20:1-11

Johannes 20:1-11 DB

Daardie Sondagmôre was die son nog nie eens op nie, toe was Maria Magdalena al by die graf. Sy het dadelik gesien dat iemand die groot klip voor die ingang van die graf weggerol het. Toe sy dit agterkom, vlieg sy om en hardloop na Simon Petrus en die ander dissipel toe (dit was die een van wie Jesus baie gehou het). “Die Here is nie meer in die graf nie. Hy’s weg!” hyg sy. “Ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie.” Petrus storm toe saam met die ander dissipel uit die huis uit. Hulle sit dadelik af graf toe. Die ander dissipel het vir Petrus weggehardloop en eerste by die graf gekom. Hy steek toe by die ingang vas en loer by die graf in. Net die linne het daar eenkant gelê. Toe Petrus daar aankom, bars hy sommer by die graf in. Hy het ook net die linne daar sien lê. Die spesiale lap wat hulle op Jesus se gesig gesit het, het nie by die ander linne gelê nie. Dit het eenkant alleen gelê, mooi opgevou. Die ander dissipel, wat eerste daar was, het nou ook sy moed bymekaargeskraap en in die graf ingegaan. Daar het hy al die linne sien lê. Dit het hom oortuig dat Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is. Tot in daardie stadium het hulle nog nie verstaan wat die Skrif daarmee bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie. Daarna is die twee daar weg, elkeen na sy eie huis toe. Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer.