Jakob het opgekyk en Esau met 400 man in die verte sien aankom. Jakob was bang en het vinnig die kinders en hulle ma’s bymekaargemaak. Hy het hulle in vier groepe opgestel. Vooraan was Silpa en Bilha met hulle kinders. Toe Lea en haar seuns. Heel agter was Ragel en Josef. Jakob het reg voor gaan staan. Stadig maar seker het hulle begin loop. Hy het telkens sewe keer grond toe gebuig totdat hy naby Esau was. Esau het skielik begin hardloop, reguit op Jakob af. Toe hy by hom kom, het hy Jakob omhels. Hy het hom vasgehou, sy kop in sy nek gesit en hom begin soen. Albei broers het gehuil.
Esau het die vroue en die kinders gesien en gevra: “En al dié mense? Wie is hulle?”
Jakob het na die kinders gewys en gesê: “God het hulle vir my gegee.”
Silpa en Bilha het toe hulle kinders gevat en laag voor Esau gebuig. Daarna het Lea en haar kinders vorentoe gestap en gebuig.
Die laaste twee was Josef en Ragel. Hulle het ook voor Esau gebuig.
Esau het weer gepraat: “Jakob, wat is jou bedoeling met al die troppe vee wat vroeër hier verbygekom het?”
“Dit is u s’n, Meneer. Alles is u s’n. Ek het gehoop dit sal u sag maak,” het Jakob gesê. Esau het geantwoord: “Dankie, my broer, maar ek het werklik genoeg diere van my eie. Hou dit liewer vir jouself.”
Jakob het vinnig teruggeantwoord: “Nee, asseblief, neem dit. Dit is my geskenk aan jou. As jy dit vat, sal jy my baie gelukkig maak.” En toe voeg hy by: “Ai, Esau, om jou gesig weer te sien is soos om God se gesig te sien. Jy was so goed vir my. Neem dan nou my geskenk. God was goed vir my en ek het meer as genoeg. So, neem dit, asseblief.” Esau het die geskenk toe aanvaar.
Esau het gesê: “Ek gaan saam met julle. So, kom ons ry.”
Jakob het geantwoord: “Soos jy kan sien, is die kinders klein en swak. En die veetroppe met kalwers en lammers beweeg stadig, want hulle is swak. As ons hulle nou gaan dryf, selfs net vir ’n dag lank, gaan hulle vrek.” Jakob het verder gepraat: “Miskien moet jy maar solank vooruitry. Ek kom dan rustig met die vee en die kinders agterna en kort voor lank is ek by jou in Seïr.”
Esau het gesê: “Goed, maar ek los ’n klompie manne hier by jou. Hulle kan jou met alles help.”
Jakob het geantwoord: “Ag, Esau, baie dankie, maar dit is werklik nie nodig nie.”
Esau het toe sy broer gegroet, omgedraai en na Seïr teruggegaan.
Jakob het tot so ver as Sukkot gekom. Daar het hy ’n huis en stalle vir sy vee gebou. Dis hoekom hulle die plek Sukkot genoem het, wat “Takskerm” beteken.
Van hier af het Jakob later Sigem toe getrek. Jakob-hulle het ’n ver pad gestap, van Paddan-Aram in die noorde af tot by Sigem in Kanaän. Gelukkig het alles goed verloop. Hulle het eers voor Sigem gestaan, maar later het Jakob die grond gekoop waarop hulle gekamp het. Dit het aan Hamor en sy kinders behoort en Jakob het hulle 100 geldstukke daarvoor betaal. Hamor het ’n seun gehad met die naam Sigem. Jakob het ’n altaar gebou en dit genoem: “God is waarlik die God van Israel.”