Esegiël 11:14-25

Esegiël 11:14-25 DB

Toe het die Here weer met my gepraat: “Mens, die mense wat in Jerusalem oorgebly het, praat oor hulle familielede wat as gevangenes na ’n vreemde land weggeneem is. Hulle sê: ‘Hierdie familie van ons is ver van die Here af, daar waar hulle in ’n vreemde land bly. Daarom het die Here hulle land nou seker vir ons gegee!’ Omdat hulle so sê, moet jy vir die mense wat gevangenes in daardie vreemde land is, gaan vertel dat die Here, Esegiël se God, vir hulle sê: Ek het julle verstrooi sodat julle nou die hele wêreld vol is, ver van julle eie vaderland af. Maar onthou dit, Ek sal altyd daar wees vir julle, waar julle ook al is. Ek sal julle beskerm en oppas. “Sê ook vir hierdie mense, Esegiël: Ek sal julle weer eendag bymekaarmaak en terugbring van al die lande af waarheen Ek julle weggejaag het. En Ek sal die land Israel daardie dag weer vir julle teruggee as julle eie land. “Wanneer die mense daardie dag terugkom na hulle eie vaderland toe, sal hulle elke spoor van afgode en van slegte dade uitvee. Daardie dag sal Ek hulle harte skoon was en nuut maak. Hulle sal anders dink en anders lyk. Ek sal hulle hart wat nou van klip en yster gemaak is, wegvat en vir hulle ’n hart gee wat van vleis gemaak is sodat hulle My reg kan dien. Dan sal hulle luister na wat Ek vir hulle sê, en hulle sal dit ook doen. Hulle sal presies alles doen net soos Ek vir hulle beveel om te doen. Dan sal hulle my volk wees en Ek sal hulle God wees. Maar daardie mense wat aanhou slegte dinge doen en afgode aanbid, sal Ek vernietig. Hulle sal betaal vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het,” sê die Here, Esegiël se God. Toe het die boodskappers onder die troon van die Here hulle vlerke gelig en in die lug opgestyg met die wiele wat langs hulle draai. En die Here het op sy troon bokant die boodskappers gesit. Toe het die Here weggegaan uit die stad uit en bokant die berg aan die oostekant van die stad gaan staan. Nadat ek al hierdie dinge gesien het, het die Gees van die Here my opgetel en teruggebring na die vreemde land waar ons gevangenes was, daar na Babilonië toe. Ek het daar saam met my volksgenote as gevangene gebly. En so het alles wat ek oor Jerusalem gesien het, geëindig. Ek het vir my mense wat in die vreemde land gevangenes was, alles vertel wat die Here my gewys het.