Ester 9:20-32

Ester 9:20-32 DB

Mordegai het al hierdie dinge laat neerskryf en vir al die Jode oral in die provinsies van koning Ahasveros se ryk briewe gestuur. Daarin het hy hulle aangemoedig om jaarliks hierdie twee dae as feesdae te vier. Dit sou hulle daaraan herinner dat hulle op hierdie dae hulle vyande oorwin het. En dat hulle hartseer in vreugde en hulle rou in blydskap verander is. Daarom moes dit ’n vrolike fees wees waarop hulle vir mekaar lekkernye en vir die armes geskenke gee. Die Jode het van Mordegai se idee gehou en dit as ’n jaarlikse fees ingestel. Haman, die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete en ’n vyand van die Jode, het die lot gewerp (ook genoem die Pur) om te bepaal watter dag hy sou gebruik om die Jode te vernietig. Hy was van plan om hulle totaal uit te roei. Maar toe die koning daarvan te hore kom, het hy ’n skriftelike opdrag gegee dat Haman en sy seuns self die slagoffers moes word van sy bose plan. So het hulle almal uiteindelik in die openbaar aan die galg gesterf. Daarom word hierdie fees die Purimfees genoem, want dit word afgelei van die woord “Pur”. Na aanleiding van alles wat Mordegai in sy brief geskryf het en alles wat hulle self ervaar het, het die Jode besluit dat hierdie twee dae deur hulle en hulle nageslagte, asook deur mense uit ander volke wat by hulle aangesluit het, as feesdae gevier moes word. Hulle het besluit om hulle streng te hou by die reëls en voorskrifte van die fees. Hulle het beveel dat elke Joodse familie van elke toekomstige geslag in elke provinsie en in elke stad hierdie twee dae moes herdenk en die Purimfees vir altyd moes vier. Toe het koningin Ester, die dogter van Abigajil en die Jood Mordegai, ook ’n brief geskryf waarin sy die brief wat Mordegai vroeër geskryf het, ondersteun. Op hierdie manier het sy die Purimfees bekragtig. Ander briewe met wense van vrede en voorspoed is ook aan die Jode in die 127 provinsies in die ryk van koning Ahasveros gestuur. Hierdie briewe het hulle en hulle nageslagte aangemoedig om die Purimfees te hou soos die Jood Mordegai en koningin Ester dit bepaal het. Hulle moes dit net so getrou en noukeurig nakom soos hulle met die vasdae en routye gemaak het. Ester se voorskrifte oor die Purimfees is toe in ’n boek neergeskryf.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Ester 9:20-32