Wees baie versigtig dat niemand julle in die verkeerde rigting lei nie. Sulke mense gebruik allerhande teorieë en argumente wat slim klink, maar eintlik is dit net ’n leë klomp bedrog. Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink. Die een vertel dit vir die volgende een en later glo almal dit. Die res kom van die onsigbare magte af wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van dié idees stem ooreen met wat Christus sou sê nie. By en in Christus is God ten volle en altyd teenwoordig, ook toe Hy mens geword het. Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte. Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle sodat julle niks kortkom nie? Hy gee aan julle die besnydenis op grond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen, neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg. Toe julle gedoop is, het daar ’n geestelike begrafnis plaasgevind: geestelik is julle saam met Christus begrawe. Dit het nie vir julle die einde beteken nie, maar dit was eintlik vir julle ’n nuwe begin. God het Christus immers uit die dood en die graf laat opstaan. Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek, deurdat julle nie daaraan twyfel nie, maar vas glo dat God die krag het om dit te doen. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon dit sien uit alles wat julle verkeerd gedoen het. In daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie. Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal. Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien. Julle moet julle ook nie steur aan mense wat met dik reëlboeke na julle toe kom en vir julle voorlees hoe godsdienstige mense eintlik moet leef nie. Hulle sal julle presies wil vertel wat julle mag eet of drink en wat nie; om nie eens te praat van die berg voorskrifte vir die feeste wat julle deur die jaar moet vier nie. En dan is daar die sabbat! Ai, hulle sal julle tot in die fynste besonderhede wil voorskryf hoe julle die sabbat moet vier. Sê nou jou beste vriend kom na jou toe, wat sal jy omhels, sy skaduwee of vir hom? Natuurlik vir hom. Dan sal julle verstaan wat ek bedoel as ek sê: die klomp feeste en kos wat vir hierdie mense so heilig is, is maar ’n skaduwee van die Een wat regtig heilig is. Omhels Christus daarom liewer; Hy is immers die inhoud van julle godsdiens. Omdat Hy daar is, is julle godsdiens mos daar. Julle sal ook mense teëkom wat kamma vreeslik nederig leef. Hulle sal julle probeer oortuig dat dit is hoe godsdiens moet wees. Hulle sal ook allerhande engele aanbid en gedurig spog met hulle geestelike ervarings of die gesigte wat hulle al gesien het. Dit laat hulle kamma so godsdienstig en so trots op hulleself voel. Ignoreer hulle. Moenie eens na ’n woord luister wat hulle sê nie. As hulle dink hulle weet wat godsdiens regtig is, slaan hulle die bal ver mis. Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. ’n Liggaam kan nie sonder ’n kop nie; net so kan ware gelowiges nie sonder Christus nie. Christus is die kop van die liggaam, die kerk. Hy gee alles aan die kerk wat dit nodig het om te groei. God self sien ook om na hierdie liggaam om seker te maak dat dit groei soos dit moet.
Lees Kolossense 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: Kolossense 2:8-19
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's