2 Konings 2:1-18

2 Konings 2:1-18 DB

Elia en Elisa was van Gilgal af op pad toe dit byna tyd was dat God Elia in ’n stormwind sou wegneem hemel toe. Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my Bet-El toe.” Elisa het geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u nooit alleen laat gaan nie.” Hulle twee het toe Bet-El toe gegaan. ’n Groep profete wat in Bet-El gewoon het, het vir Elisa gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leier na Hom toe gaan wegneem?” “Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy, “maar moenie daaroor praat nie!” Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my Jerigo toe.” Elisa het weer geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u vir seker nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe Jerigo toe gegaan. ’n Groep profete wat in Jerigo gewoon het, het vir Elisa gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leier na Hom toe gaan wegneem?” Hy het toe weer geantwoord: “Natuurlik weet ek dit, maar moenie daaroor praat nie!” Elia sê toe ’n derde keer vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaanrivier toe.” Elisa het weer geantwoord: “So seker as die Here en u leef, ek sal u vir seker nie alleen laat gaan nie!” Die twee van hulle het toe vertrek. ’n Groep van omtrent 50 profete het hulle gevolg en op ’n afstand gekyk wat hulle by die rivier doen. Elia het sy mantel opgerol en daarmee op die water geslaan. Dit het die water laat verdeel en hulle twee het droogvoets deur die rivier gestap. Aan die ander kant het Elia vir Elisa gevra: “Wat kan ek nog vir jou doen voordat ek van jou af weggeneem word?” Elisa het geantwoord: “Laat ek as seun wat eerste gebore is, ’n dubbele porsie erf.” Elia sê toe: “Jy het iets moeiliks gevra. As jy my kan sien wanneer ek van jou af weggaan, sal dit gebeur. Maar as jy my nie kan sien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle so geloop en praat het, kom daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur, tussen hulle twee in. Elia is só in ’n stormwind na die hemel toe weggeneem. Elisa het dit sien gebeur en uitgeroep: “My vader! My vader! U is Israel se strydwa en ruiters!” Toe hy Elia nie meer kon sien nie, het hy van hartseer sy mantel in twee stukke geskeur. Elia se mantel het in die harwar van hom afgeval. Elisa het dit opgetel en na die Jordaanrivier teruggegaan. Hy het die water met die mantel geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, Elia se God?” Die water het weer verdeel en hy het deur die rivier gestap. Die profete van Jerigo wat alles op ’n afstand staan en dophou het, het opgewonde geroep: “Nou is Elisa Elia se waardige opvolger!” Hulle het na hom toe gegaan en voor hom gebuig. Hulle het gesê: “Hier tussen ons is 50 sterk jongmanne tot u beskikking. Spreek net die woord dan sal ons u leier gaan soek! Miskien het die Here se Gees hom opgeraap en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.” “Nee, los dit maar,” het Elisa geantwoord, “moet hulle nie stuur nie.” Maar hulle het só aangehou dat hy later ingestem het. Die 50 manne het drie dae lank na Elia gesoek, maar hom nie gekry nie. Elisa was nog in Jerigo toe hulle teruggekom het. Hy vra hulle toe: “Het ek nie gesê julle kan dit maar los nie?”