My liewe broers en susters, ek het julle geleer presies hoe julle moet leef om God se hart bly te maak. En julle doen dit ook. Nou vra ek julle baie ernstig in die Naam van die Here Jesus, span julle selfs nog meer in om al hierdie dinge te doen. Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af. Daarom moet julle dit asseblief ook doen. God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek. Julle huwelik moet so kosbaar wees dat daar geen tyd of plek vir verkeerde seksuele begeertes in julle lewe is nie. Ongelowiges wat hulle nie aan God steur nie, vang al daardie vieslike dinge aan. Ek waarsku julle, moenie julle aan verkeerde seksuele gedrag skuldig maak nie. Onder geen omstandighede mag julle ’n skelm verhouding met ’n ander gelowige se huweliksmaat hê nie. Onthou, die Here sien dit raak. Hy straf sulke sondes. God gee glad nie aan ons die reg om seksueel losbandig te leef nie. Inteendeel, ons hele lewe moet wys dat ons nou aan Hom behoort. Mense wat hulle nie steur aan wat ek sê nie, maak ’n bespotting van God wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. Ek het nie nodig om nog iets te sê oor hoe julle mekaar as gelowiges moet liefhê nie. God self het julle geleer hoe om mekaar lief te hê. Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om. Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was. As julle dit doen, sal ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook respek vir julle hê. Boonop sal julle dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle niemand in die oë hoef te kyk nie.
Lees 1 Tessalonisense 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Tessalonisense 4:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's