PSALMS 90
90
Verganklikheid van die mens.
1 'n GEBED van Moses, die man van God.
Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.
3U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders!
4Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos 'n nagwaak.
5Weggespoel het U hulle; hulle word 'n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit:
6in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny 'n mens dit af, en dit verdor.
7Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.
8 U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.
9Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos 'n gedagte.
10Die dae van ons jare — daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.
11Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?
12 Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!
13 Keer terug, Here! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte.
14Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.
15Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het.
16Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders.
17En laat die lieflikheid van die Here onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!
Tans Gekies:
PSALMS 90: AFR53
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.