PSALMS 72
72
Kroningslied.
1VAN Salomo.
o God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning.
2 Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg.
3Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid.
4Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel.
5Hulle sal u vrees solank as die son skyn en solank as die maan daar is, van geslag tot geslag.
6 Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie — 'n swaar reën op die aarde.
7In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.
8 En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.
9 Die bewoners van dor plekke sal voor hom kniel, en sy vyande sal die stof lek.
10 Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring.
11Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien.
12Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie.
13Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.
14Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
15Mag hy dan lewe! en mag hulle aan hom gee van die goud van Skeba en altyddeur vir hom bid; mag hulle die hele dag hom seën!
16Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Líbanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde!
17Mag sy naam vir ewig wees; mag sy naam uitspruit solank as die son daar is! En mag al die nasies in hom geseën word, hom gelukkig prys!
18 Geloofd sy die Here God, die God van Israel, wat alleen wonders doen!
19En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.
20 Hier eindig die gebede van Dawid, die seun van Ísai.
Tans Gekies:
PSALMS 72: AFR53
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.