SPREUKE 12:15-28

SPREUKE 12:15-28 AFR53

Die weg van 'n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad. Die dwaas laat sy drif op die daad bekend word, maar die skrandere verberg skande. Hy wat die waarheid spreek, vertel wat reg is; maar 'n valse getuie bedrog. Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing. 'n Betroubare lip bestaan vir altyd, maar 'n valse tong vir 'n oomblik. Bedrog is in die hart van die wat onheil bewerk; maar die wat vrede aanraai, het vreugde. Geen enkele onheil tref die regverdige nie, maar die goddelose is vol ongeluk. Valse lippe is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het 'n welbehae in die wat getrou handel. 'n Skrander mens verberg sy kennis, maar die hart van die dwase roep hulle sotheid uit. Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid. Bekommernis in die hart van 'n mens druk dit neer, maar 'n vriendelike woord vrolik dit op. Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal. Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is 'n kosbare skat vir 'n mens. Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.