MARKUS 9:17-27

MARKUS 9:17-27 AFR53

En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat 'n stomme gees het, na U gebring; en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie. Toe antwoord Hy hom en sê: O Ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe. En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond. Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het? En hy sê: Van sy kindsdae af; en dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons. En Jesus sê vir hom: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! En toe Jesus sien dat 'n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie. En nadat hy geskreeu en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan. En die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie gesê het: Hy is dood. Maar Jesus het hom by die hand gegryp en hom opgerig; en hy het opgestaan.