MARKUS 8:1-13

MARKUS 8:1-13 AFR53

IN dié dae toe daar 'n baie groot menigte was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie. En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver. En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan sal 'n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood? Toe vra Hy hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe. En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor. Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit. En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was omtrent vierduisend. En Hy het hulle weggestuur. EN dadelik het Hy met sy dissipels in die skuit geklim en in die streke van Dalmanúta gekom. En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin redetwis en van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te versoek. Toe sug Hy swaar in sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag 'n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal sekerlik geen teken gegee word nie. En Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim en na die oorkant gegaan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 8:1-13

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid