MARKUS 4:1-25

MARKUS 4:1-25 AFR53

EN Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see. En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê: Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai. En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie. En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie. En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig. En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra. En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie. En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. En dit is hulle wat langs die pad is — waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word — wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik. En hulle by wie in die dorings gesaai word — dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is — hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig. EN Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.