MARKUS 13:1-13

MARKUS 13:1-13 AFR53

EN toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter klippe en watter geboue! En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie! En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word? En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei. Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is 'n begin van die smarte. Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees. En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.