MATTHÉÜS 2:13-23

MATTHÉÜS 2:13-23 AFR53

EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep. Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het. Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: 'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie. EN ná die dood van Herodes het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het. En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom. Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het 'n goddelike waarskuwing in 'n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer. En hy het gaan woon in 'n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.