MATTHÉÜS 14:22-31

MATTHÉÜS 14:22-31 AFR53

EN Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur. En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle. Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is 'n spook! En hulle het geskreeu van vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie. En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom. En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan. Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?