IN daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het honger geword en are begin pluk en eet. Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie. Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het — hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat. EN Hy het daarvandaan weggegaan en in hulle sinagoge gekom. En daar was 'n man met 'n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? — sodat hulle Hom sou kan aanklae. Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in 'n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een. Daarop het die Fariseërs uitgegaan en saam raad gehou teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring. Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak
Lees MATTHÉÜS 12
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: MATTHÉÜS 12:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's