EN die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet. En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei? En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal 'n man julle ontmoet wat 'n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u — waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei. En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei. En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. En toe Hy 'n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!
Lees LUKAS 22
Deel
Vergelyk alle weergawes: LUKAS 22:7-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's