LUKAS 12:22-32

LUKAS 12:22-32 AFR53

EN Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.