En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën! Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE. En op 'n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer, kom 'n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle, het die Sabeërs 'n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. Terwyl dié een nog spreek, kom daar 'n ander een en sê: Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. Terwyl dié een nog spreek, kom daar 'n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en 'n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. Terwyl dié een nog spreek, kom daar 'n ander een en sê: U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, toe daar meteens 'n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval
Lees JOB 1
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: JOB 1:9-20
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's