JOHANNES 6:40-71

JOHANNES 6:40-71 AFR53

En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Toe murmureer die Jode oor Hom, omdat Hy gesê het: Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het. En hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Moenie onder mekaar murmureer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. Die Jode het toe met mekaar gestry en gesê: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het — nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe. Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het. EN baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot 'n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God. Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is 'n duiwel! En Hy het bedoel Judas Iskáriot, die seun van Simon; want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.