JOHANNES 6:22-42

JOHANNES 6:22-42 AFR53

DIE volgende dag sien die skare wat oorkant die see gestaan het, dat daar geen ander skuit was nie, behalwe daardie een waarin sy dissipels gegaan het; en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Maar ander skuite het van Tibérias aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het, nadat die Here gedank het. Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar was nie en sy dissipels ook nie, het hulle self ook in die skuite geklim en na Kapérnaüm gegaan om Jesus te soek. En toe hulle Hom oorkant die see gevind het, sê hulle vir Hom: Rabbi, wanneer het U hier gekom? Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël. Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. En hulle sê vir Hom: Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie. Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Toe murmureer die Jode oor Hom, omdat Hy gesê het: Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het. En hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?