JOHANNES 11:45-57

JOHANNES 11:45-57 AFR53

EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het. En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? — want hierdie man doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem. En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe. En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg. Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode gewandel nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n stad met die naam van Efraim. En daar het Hy vertoef met sy dissipels. En die pasga van die Jode was naby; en baie het uit dié landstreek na Jerusalem opgegaan voor die pasga om hulle te reinig. En hulle het Jesus gesoek; en terwyl hulle in die tempel staan, sê hulle vir mekaar: Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie? En die owerpriesters en die Fariseërs het ook 'n bevel gegee dat as iemand wis waar Hy was, hy dit moes bekend maak, sodat hulle Hom gevange kon neem.