JESAJA 40:18-31

JESAJA 40:18-31 AFR53

By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? Die ambagsman giet 'n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. Wie te arm is vir so 'n offergawe, kies 'n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom 'n kunsvaardige ambagsman om 'n beeld op te rig wat nie wankel nie. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon. Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos 'n stoppel. By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JESAJA 40:18-31