HEBREËRS 11:7-16

HEBREËRS 11:7-16 AFR53

Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is. Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in 'n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het. Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit 'n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is. In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle 'n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei.