GÉNESIS 30:1-20

GÉNESIS 30:1-20 AFR53

EN toe Ragel sien dat sy vir Jakob geen kinders baar nie, het Ragel jaloers geword op haar suster en aan Jakob gesê: Gee vir my kinders of anders sterf ek. Toe het Jakob kwaad geword vir Ragel en gevra: Is ek dan in die plek van God wat die vrug van die skoot aan jou onthou het? En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knieë kan baar en ek ook uit haar gebou kan word. Daarop het sy aan hom haar slavin Bilha as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan. En Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun gebaar. Toe sê Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my 'n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem. En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob 'n tweede seun gebaar. Toe sê Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook oorwin. En sy het hom Náftali genoem. En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou. En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob 'n seun gebaar. Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem. Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob 'n tweede seun gebaar. Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem. En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels gevind en dié na sy moeder Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: Gee my tog van jou seun se liefdesappels. Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel sê: Daarom mag hy vir jou seun se liefdesappels vannag by jou slaap. Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na mý kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap. En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob 'n vyfde seun gebaar. Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Íssaskar genoem. En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob 'n sesde seun gebaar. Toe sê Lea: God het my 'n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem.

Video vir GÉNESIS 30:1-20