GÉNESIS 12:2-10

GÉNESIS 12:2-10 AFR53

En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy 'n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf-en-sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom. En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land. Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar 'n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het. En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste- en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek. En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid