Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor my aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid. Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het. En Ek het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande; Ek het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge. En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle my heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van die HERE, en hulle moes uit sy land uittrek. Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het. Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het. En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My 'n volk en Ek sal vir julle 'n God wees. En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie. En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie. Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels.
Lees ESÉGIËL 36
Deel
Vergelyk alle weergawes: ESÉGIËL 36:16-31
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's