HANDELINGE 7:30-50

HANDELINGE 7:30-50 AFR53

En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos. En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur. Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as 'n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos. Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister. Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee. Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Egipte teruggekeer toe hulle vir Aäron gesê het: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En hulle het in daardie dae 'n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly. Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel? Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer. Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het. En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid wat genade gevind het voor God en gevra het om 'n woonplek vir die God van Jakob te verkry. En Salomo het 'n huis vir Hom gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?