HANDELINGE 5:33-39

HANDELINGE 5:33-39 AFR53

Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring. Maar 'n Fariseër met die naam van Gamáliël, 'n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels 'n bietjie buitentoe moes bring. Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n aantal mense — omtrent vierhonderd — aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. En ná hom het Judas, die Galiléër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi. En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.