Romeine 7:1-25

Romeine 7:1-25 CAB23

Weet julle nie, broeders, (want ek spreek met die wat die wet ken), dat die wet oor 'n mens heers so lank as hy lewe nie? Want die vrou wat 'n man het, is deur die wet aan haar man gebonde solank hy lewe; maar as die man dood is, is sy verlos van die wet van haar man. As sy dan, terwyl haar man lewe, met 'n ander man getroud is, sal sy 'n egbreekster genoem word; maar as haar man dood is, is sy vry van daardie wet; sodat sy geen egbreekster is nie, al is sy met 'n ander man getroud. Daarom, my broeders, het julle ook vir die wet dood geword deur die liggaam van Christus; dat julle met 'n ander getroud moet wees, naamlik met Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons vir God vrug kan dra. Want toe ons in die vlees was, het die bewegings van sondes wat deur die wet was, in ons lede gewerk om vrug te dra tot die dood. Maar nou is ons verlos van die wet, omdat ons dood was waarin ons aangehou was; dat ons dien in 'n nuwe gees en nie in die oudheid van die letter nie. Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Die Here behoed. Nee, ek het die sonde nie geken nie, maar deur die wet; want ek het nie begeerlikheid geken nie, tensy die wet gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het deur die gebod aanleiding gegee en in my allerhande begeerlikheid bewerk. Want sonder die wet was die sonde dood. Want ek het een keer sonder die wet gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde herleef en ek het gesterwe. En die gebod wat tot lewe bestem was, het ek gevind dat dit tot die dood was. Want sonde het deur die gebod aanleiding gegee, my bedrieg en my daardeur gedood. Daarom is die wet heilig en die gebod heilig en regverdig en goed. Is dit wat goed is dan vir my die dood? Die Here behoed. Maar die sonde, dat dit sonde kan blyk, wat die dood in my bewerk deur wat goed is; sodat sonde deur die gebod uitermate sondig kan word. Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, laat ek nie toe nie; want wat ek wil, dit doen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek. As ek dan doen wat ek nie wil nie, stem ek in met die wet dat dit goed is. Nou dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my (dit is in my vlees) geen goeie ding woon nie; want om te wil is by my teenwoordig; maar hoe om te doen wat goed is, vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dan 'n wet dat, wanneer ek goed wil doen, die kwaad by my is. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens. Maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van sonde wat in my lede is. O ellendige mens wat ek is! wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here. So dien ek dan self die wet van God met die verstand; maar met die vlees die wet van sonde.

Video vir Romeine 7:1-25