Matteus 6:1-23

Matteus 6:1-23 CAB23

Pas op dat julle nie julle aalmoese voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen beloning van julle Vader wat in die hemele is nie. Daarom, wanneer jy jou aalmoese bewys, moet jy nie 'n basuin voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, sodat hulle eer van die mense kan hê nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar as jy aalmoese gee, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Sodat jou aalmoese in die verborgene kan wees; en jou Vader wat self in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie, want hulle bid graag staande in die sinagoges en op die hoeke van die strate, sodat hulle deur die mense gesien kan word. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, en sluit jou deur, bid tot jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Maar wanneer julle bid, gebruik nie ydele herhalings soos die heidene doen nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word vanweë hulle baie woorde. Moet julle dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet watter dinge julle nodig het voordat julle Hom vra. So bid julle dan: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie. En as julle vas, moet julle nie soos die geveinsdes van 'n droewige voorkoms wees nie; Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou aangesig; dat jy nie aan die mense verskyn om te vas nie, maar aan jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie. Maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek of steel nie; Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Die lig van die liggaam is die oog; as jou oog dus enkel is, sal jou hele liggaam vol lig wees. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig wat in jou is duisternis is, hoe groot is daardie duisternis!

Video vir Matteus 6:1-23

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 6:1-23