Matteus 24:1-22

Matteus 24:1-22 CAB23

En Jesus het uitgegaan en van die tempel af weggegaan, en sy dissipels het na Hom gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle nie al hierdie dinge nie? Voorwaar Ek sê vir julle, hier sal nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie. En terwyl Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees? en wat sal die teken wees van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus; en sal baie mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë; pas op dat julle nie verskrik word nie, want al hierdie dinge moet gebeur, maar die einde is nog nie. Want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Dit alles is die begin van smarte. Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie aanstoot neem en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mislei. En omdat die ongeregtigheid toeneem, sal die liefde van baie verkoel. Maar hy wat volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom; laat hy wat lees, verstaan! Laat dan die wat in Judéa is, die berge in vlug. Laat hom wat op die dak is, nie afkom om iets uit sy huis te neem nie. Laat hom wat in die veld is, ook nie terugkom om sy klere te neem nie. En wee die swangeres en die wat soog in daardie dae! Maar bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbatdag sal wees nie. Want dan sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie was en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort word nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.