Lukas 1:30-38

Lukas 1:30-38 CAB23

En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal in jou skoot swanger word en 'n seun baar, en jy moet hom JESUS noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee. En hy sal vir ewig koning wees oor die huis van Jakob; en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe sal dit wees, aangesien ek geen man ken nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu; daarom sal ook die heilige wat uit jou gebore sal word, die Seun van God genoem word. En kyk, jou niggie Elisabet, sy het ook swanger geword van 'n seun in haar ouderdom; en dit is die sesde maand met haar wat onvrugbaar genoem is. Want by God sal niks onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die slavin van die Here; laat dit my wees volgens u woord. En die engel het van haar af weggegaan.