Romeine 9:1-24

Romeine 9:1-24 AFR20

Ek praat die waarheid in •Christus – ja, ek lieg nie – en my gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig teenoor my dat ek in my hart 'n ontsaglike droefheid en 'n onophoudelike pyn ervaar. Ek sou inderdaad wou bid om self vervloek te wees, verwyder van Christus, in belang van my broers, my volksgenote na die liggaam. Hulle is Israeliete; aan hulle behoort die aanneming tot kinders, die heerlikheid, die verbonde, die wetgewing, die tempeldiens en die beloftes; aan hulle behoort die voorvaders, en uit hulle het ook die Christus as mens gekom – Hy wat God bo alles is, lofwaardig vir ewig! •Amen. Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou. Want dít is die woord van die belofte: “Teen hierdie tyd sal Ek kom en sal Sara 'n seun hê.” Dit is nie al nie. Ook Rebekka het uit net een man swanger geword, naamlik uit ons voorvader Isak, want nog voordat haar kinders gebore is, of iets goeds of kwaads gedoen het, is vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Dit het gebeur, sodat God se voorneme volgens sy uitverkiesing sou bly staan, nie op grond van mense se dade nie, maar op grond van Hom wat roep. Soos daar geskryf staan: “Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek 'n afkeer gehad.” Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! Vir Moses sê Hy tog: “Ek sal My ontferm oor wie ook al Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie ook al Ek barmhartig wil wees.” Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. Die Skrif sê immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” Hy ontferm Hom dus oor wie Hy wil, en Hy maak hardkoppig wie Hy wil. Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog 'n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?” Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie? Dit is ons wat Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Jode.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid