Sing vir die HERE 'n nuwe lied, sing vir die HERE, o ganse aarde! Sing vir die HERE, prys sy Naam, verkondig sy verlossing van dag tot dag. Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. Want groot is die HERE en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die HERE het die hemel gemaak. Luister en glans is voor Hom; krag en heerlikheid is in sy heiligdom. Gee eer aan die HERE, familiegroepe van volke! Gee eer aan die HERE vir sy heerlikheid en krag! Gee eer aan die HERE vir die heerlikheid van sy Naam! Bring dankbewyse en gaan sy voorhowe binne. Buig in aanbidding voor die HERE in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! Sê onder die nasies: “Die HERE regeer; ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Hy oordeel volke met billikheid.” Laat die hemel bly wees, en die aarde juig; laat die see en alles daarin dit uitbasuin. Laat die veld en alles daarop jubel; dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die HERE. Want Hy kom, ja, Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in •geregtigheid, en volke ooreenkomstig sy trou.
Lees Psalms 96
Deel
Vergelyk alle weergawes: Psalms 96:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's