Spreuke 14:1-35

Spreuke 14:1-35 AFR20

Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af. Wie in sy opregtheid die lewenspad loop, het ontsag vir die HERE, maar hy wat op kronkelpaaie gaan, verag Hom. In die mond van 'n sot is daar 'n slaanding vir sy hoogmoed, maar die lippe van wyses beskerm hulle. Waar geen beeste is nie, is die voerkrip leeg; maar groot is die opbrengste deur die krag van 'n bul. 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n vals getuie ryg leuens uit. 'n Spotter soek wysheid, maar daar is niks; kennis is vir 'n verstandige maklik. Bly weg van 'n dwase man; jy sal nie lippe met kennis leer ken nie. Die wysheid van 'n slim mens is om sy lewenspad te verstaan, maar die sotheid van dwase is bedrog. Sondeskuld maak 'n bespotting van sotte, maar tussen opregtes is daar welwillendheid. Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan 'n buitestander nie deel nie. Die huis van goddeloses word verdelg, maar die tent van opregtes gedy. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Ook onder gelag kan 'n hart pyn ervaar; die einde van vreugde is verdriet. Van sy eie optrede kry 'n afvallige genoeg, en 'n goeie man kry genoeg van wat oor hom kom. Onkundiges glo elke woord, maar 'n slim mens oorweeg sy voetstappe. 'n Wyse is versigtig en vermy die kwaad, maar 'n dwaas is humeurig en vol selfvertroue. Wie kort van humeur is, begaan 'n sotheid, en iemand met slinkse planne word gehaat. Onverstandiges erf sotheid, maar slim mense dra kennis as hoofbedekking. Slegtes buig neer voor goeies, en goddeloses by die poorte van 'n regverdige. Selfs deur sy medemens word 'n arme gehaat, maar die vriende van 'n ryke is baie. Wie sy medemens verag, sondig; maar wie medelye het met magteloses, is gelukkig. Is hulle wat kwaad beplan nie op 'n dwaalspoor nie, en is troue liefde en waarheid nie bestem vir hulle wat die goeie beplan nie? In alle harde werk is daar voordeel, maar 'n blote gepraat lei net tot gebrek. Die kroon van wyses is hulle rykdom; die sotheid van dwase is blote sotheid. 'n Betroubare getuie red lewens, maar wie leuens uitryg, is bedrieglik. In ontsag vir die HERE lê daar sterk vertroue, en vir iemand se kinders bied dit 'n skuilplek. Ontsag vir die HERE is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word. In 'n oorvloed van mense lê 'n koning se luister, maar in die afwesigheid van 'n volk, lê 'n hooggeplaaste se ondergang. Die geduldige mens is ryk aan verstandigheid, maar wie kort van humeur is, stel sotheid ten toon. 'n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente. Hy wat 'n arme uitbuit, beledig sy Maker, maar wie hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom. Deur sy boosheid word 'n goddelose omvergewerp, maar 'n regverdige vind 'n skuilplek, selfs by sy dood. In die hart van 'n verstandige rus wysheid; selfs onder dwase is dit bekend. Geregtigheid verhoog 'n nasie, maar sonde is 'n skande vir volke. Die welwillendheid van die koning is daar vir 'n verstandige dienaar, maar sy gramskap is bedoel vir 'n skandemaker.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 14:1-35