Nehemia 9:1-25

Nehemia 9:1-25 AFR20

Op die vier-en-twintigste dag van hierdie maand het die Israeliete byeengekom, terwyl hulle vas in rouklere, en met grond op hulle koppe. Die nageslag van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders. Hulle het gestaan en belydenis gedoen van hulle sondes en die sondeskuld van hulle voorouers. Hulle het op hulle plekke bly staan en het vir 'n kwart van die dag uit die •boekrol met die Wet van die HERE hulle God gelees, en vir 'n kwart van die dag het hulle belydenis gedoen, en telkens voor die HERE hulle God in aanbidding gebuig. Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog van die Leviete gaan staan en met harde stemme na die HERE hulle God om hulp geroep. Die Leviete, Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja het gesê: “Staan op! Prys die HERE julle God van ewigheid af en vir ewig! Laat hulle u heerlike Naam prys wat bo elke seënspreuk en loflied verhewe is. U alleen is die HERE; dit is U wat die hemelruim, die hoogste hemele, gemaak het en al sy hemelliggame, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. U hou dit alles aan die lewe; en die hemelliggame – voor U buig hulle in aanbidding. “U is die HERE, die God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gelei het, vir hom die naam Abraham gegee het. U het sy hart getrou teenoor U bevind en met hom die verbond gesluit om aan hom te gee die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete en Feresiete, die Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee. U het u woord gestand gedoen, want U is regverdig. “ U het die ellende van ons voorouers in Egipte raakgesien, hulle noodkreet by die Rietsee het U gehoor. U het tekens en wonders gedoen by die farao, by al sy dienaars en die hele volk van sy land, want U het geweet dat hulle vermetel optree teen u volk; U het vir U 'n naam gemaak, soos dit vandag nog is. “ Die see het U voor hulle oopgekloof, hulle het dwarsdeur die see getrek op droë grond. Hulle agtervolgers het U in die dieptes gewerp, soos 'n klip in die magtige waters. Met 'n wolkkolom het U hulle bedags gelei, met 'n vuurkolom snags, om vir hulle die pad te verlig waarop hulle moes gaan. “ Op die berg Sinai het U neergedaal, met hulle uit die hemel gepraat. U het vir hulle gepaste beslissings gegee – betroubare wette, goeie voorskrifte en gebooie. U heilige Sabbat het U aan hulle bekend gestel; gebooie, vaste voorskrifte en 'n wet het U hulle opgelê by monde van Moses, u dienskneg. “Brood uit die hemel het U aan hulle gegee vir hulle honger; water uit 'n rots het U vir hulle laat ontspring vir hulle dors. U het vir hulle gesê om in te gaan, die land in besit te neem, die land waaroor U u hand opgehef het om dit aan hulle te gee. Maar hulle, ons voorouers, was vermetel; hulle het hulle nekke styf gemaak; hulle was nie gehoorsaam aan u gebooie nie. Hulle het geweier om te luister; hulle het nie u wonderdade onthou wat U aan hulle gedoen het nie. Hulle het hulle nekke styf gemaak en was vasbeslote om terug te keer na hulle slawerny in Egipte. Maar U is 'n God wat vergewe, U is genadig en barmhartig, geduldig, vol troue liefde; U het hulle nie verlaat nie. Selfs toe hulle 'n gegote kalf gemaak en gesê het, ‘Dit is jou God wat jou uit Egipte laat optrek het,’ en hulle hulle skuldig gemaak het aan ernstige godslastering, het U, in u groot ontferming, hulle nie in die woestyn agtergelaat nie. Die wolkkolom, om hulle op die pad te lei, het bedags nie van hulle gewyk nie, en die vuurkolom, om vir hulle die pad te verlig waarop hulle moes gaan, ook nie snags nie. U goeie Gees het U gegee om aan hulle insig te gee; u manna het U nie van hulle monde weerhou nie; en water het U vir hulle gegee om hulle dors te les. Veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het geen gebrek gely nie; hulle klere het nie verslyt nie, en hulle voete het nie geswel nie. “ U het koninkryke en volke aan hulle oorgelewer, die grondgebied stuk vir stuk onder hulle verdeel. Hulle het die land van Sihon in besit geneem, ook die land van die koning van Gesbon en die land van Og, koning van Basan. Hulle kinders het U so talryk gemaak soos die sterre aan die hemelruim. U het hulle gebring na die land wat U aan hulle voorouers beloof het om daar in te gaan, om dit in besit te neem. Die kinders het die land binnegegaan, dit in besit geneem. U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor hulle die knie laat buig. U het hulle in hulle hand gegee, sowel hulle konings as die volke van die land, om met hulle te doen net wat hulle wou. Hulle het versterkte stede en vrugbare grond verower. Hulle het huise, vol van alles wat goed is, in besit geneem, ook uitgekapte opgaarputte, wingerde, olyfboorde en talryke vrugtebome. Hulle het geëet, versadig en vet geword; hulle kon hulle verlustig in u groot goedheid.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Nehemia 9:1-25