Markus 8:1-13

Markus 8:1-13 AFR20

Toe daar gedurende daardie dae weer 'n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus die dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op pad beswyk. Sommige van hulle kom immers van ver af.” Sy dissipels het Hom egter geantwoord: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe.” Toe beveel Hy die skare om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en gedank het, breek Hy dit en gee vir sy dissipels om voor te sit, en hulle het dit aan die skare voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Nadat Hy die seëngebed daaroor uitgespreek het, het Hy gesê dat hulle ook dit moet voorsit. Die mense het geëet en versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Daar was ongeveer vierduisend mense. Daarna het Hy hulle weggestuur. Hy het dadelik in 'n boot geklim en saam met sy dissipels na die streek van Dalmanuta gegaan. Die •Fariseërs het na vore getree en begin om met Hom te redeneer. Om Hom te toets, het hulle Hom 'n teken uit die hemel gevra. Hy het in sy binneste diep gesug en gesê: “Waarom vra hierdie geslag 'n teken? •Amen, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.” Hy het hulle verlaat, weer in die skuit geklim en na die oorkant vertrek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 8:1-13

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid