Markus 4:1-25

Markus 4:1-25 AFR20

Hy het weer begin om hulle langs die see te onderrig. Daar het toe so 'n groot skare om Hom saamgedrom dat Hy op die see in 'n boot gaan sit het, en die hele skare was op die strand langs die see. Hy het hulle dikwels deur gelykenisse geleer en deur sy lering vir hulle gesê: “Luister, julle! Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en voëls het gekom en dit opgepik. 'n Ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei. Omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 'n Ander deel het tussen die dorings geval. Die dorings het opgekom en dit verstik, en dit het nie vrug voortgebring nie. En nog ander saad het op goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en opbrengs gelewer, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” Toe het Hy gesê: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Toe Hy alleen was, het die omstanders saam met die twaalf Hom uitgevra oor die gelykenisse. En Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die geheimenis van die •koninkryk van God bekend gemaak, maar vir hulle daar buite word alles in gelykenisse gegee, “ ‘sodat hulle sal sien, en tog nie sien nie, en hoor, en tog nie verstaan nie, en hulle nie terugdraai en vergewe word nie.’ ” En Hy sê vir hulle: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? Hoe sal julle dan al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word – sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is. En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor; maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net 'n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik. En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Maar die saad wat op die goeie grond gesaai is, is daardie mense wat die woord hoor, dit aanneem en vrug dra, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” En Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp word tog nie gebring om onder 'n maatemmer of 'n bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op 'n lampstaander geplaas te word nie? Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie, en daar is niks weggesteek wat nie aan die lig sal kom nie. Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee ag op wat julle hoor! Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word, en daar sal vir julle nog bygevoeg word. Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word.”